Tuesday 19 December 2017

KERSVERHAAL 2017

My Kersverhaal aan Carpe Noctem Gloria


Dankie vir die geleentheid om in  hierdie redaksie te dien. Dit gaan nie oor my foto’s nie maar oor die Woord. Dis een ding waarvan ek seker is: “Die Hemel en die aarde sal verbygaan, maar My Woorde sal nooit verbygaan nie.”(Mattheus 24:35)

Die foto’s maak my skaam vir die eenvoud waarmee hulle die waarheid vas lê.

As ek die mooi raak sien skop die adrenalienpomp in.   Op die meeste foto’s lê ek op my maag of rug of is ek onderstebo.  Die hoofbestandeel is die “Sjoe, Here, maar dit is mooi”,  saam met ‘n binnekop-lied wat Hom prys.

Dis elke dag ‘n nuwe lied. Sommige foto’s het my sien sit en rol in onwelriekende  vis en iets van ‘n hond wat meer agtergelaat het as sy voetspore.  ‘See no evil, hear no evil, speak no evil’ terwyl die  foonkamera die geskenke oopmaak.

Kyk nou net hoe gebeur my Kersdag-foto’s: Lees dit sommer soos ‘n modernedag gelykenis. So uit hierdie week se dagboek.

God voorsien

Asof ‘n hoedspeld onder my bas gesit is, spring ek op toe ek die uitsig deur die skuifdeur sien.


Vergeet van tande borsel, hare kam  en die hond. Voor jy kan sê sonsopkoms stop my kar by die strand.  In my is ‘n ligte maar sterk trilling en ek weet die aardbewing is op pad. Op die agterste sitplek is ‘n blou sak vol hooi. Ek slaan my arms om die sak en wandel waardig in die seepad af. Ek en ‘Abraham’.

Hoekom Abraham? Want Abraham beteken  “God sal voorsien”.

Dit is Kersfees -- God sal voorsien.

Abraham het vir Izak gehad en die vuurmaakhout, ek het n sak vol hooi en ‘n kamera. My oggendlesing wat kleef: 1 Thessalonisense 2:13  “... die Woord van God wat ook werk in julle wat glo.” Ek glo en die Woord werk. Sy teenwoordig-heid is my suiwer suurstofhelium.

My oë soek. Dit is hier, ek moet dit net kry. Die eerste stop was net ‘n komma. Soos n glasie wyn lig ek die mandjie met hooi na die skakerings agter die see, en my kamera se klik sê “baie mooi”.
"Die waaragtige Lig wat elke mens verlig, was aan’t kom in die wêreld." (Johannes 1:9)


Die tweede stop was ‘n kommapunt, die inleiding van wat wag. Die houtpaal met die gat was daar, en die hooi maak ‘n nuwe prentjie so deur die gat.


Soos die wyse manne volg ek die ster wat voor my uit gaan en wag net vir daardie ster om tot stilstand te kom.

Dan is dit daar. Die punt. Staan dit en pronk op die top van die hoogste van drie duine. Die rietkruis. Twee riete netjies vasgebind met weggooi vislyn en daar gelos vir my. Die hooi het ‘n huis. Dit is mos Kersfees. Jesus is mos in ‘n stal neergelê. Daar is mos hooi in ‘n stal. Jesus is mos gebore vir die kruis. 


“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.”  Ek plaas  die klein Bybeltjie saggies neer op die hooibed, langs die kruis. My Jesus leef vandag.


“Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie,”  Sy ontstaan is oral rondom my. Wit wolkillusie spikkel deur die hooi, die son boots Sy vuurvlam oë na. My ore hoor die see praat met baie waters. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
"En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het Sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid.” (Johannes 1:14)
En toe skielik die sandstorm. Die hooi waai weg. Die vissermanne ‘waai weg’. Hy sonder my af net vir Hom. Ek klou aan die kruis.
"Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel." (Efesiers 6:11)
Die wind sluk my in. Die wind lig my hande met die kruis so hoog ek stamp ‘n gat in die wolke.
"In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie." (Johannes 1:4-5)

My beker loop oor. Vreugde ongehoord, en onbeskaamd sing ek die lied wat die hele oggend in die agtergrond luier. “All I had to offer You was brokenness and shame, but You made something beautiful of my life.”

My arms en die kruis swaai soos die dirigeerstokkie van die Philadalphia-orkes se dirigent terwyl ek in die rondte draai. 
"Maar die Here julle God moet julle aanhang soos julle tot vandag toe gedoen het." (Josua 23:8)
Een met die elemente buig ek nou neer en sien hoe die sand  teen my leë hooisak waai.
"En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind." (Lukas 1:30)
Alles  vir hierdie moment, vervul die reikhalsende verlange in Sy teenwoordigheid. So voel dit om te lewe.

Die foon klik nie meer nie, die battery is pap. ‘n Tyd vir alles. Dit was tyd om huis toe te gaan.

Vol vreugde bereik ek my motor. Die mees basiese outomatiese beweging om jou deur oop te sluit haak vas. Die sleutel. Wat ‘n wrede ontnugtering. Waar is die sleutel van hierdie motor wat met die oog gesien kan word en die werklikheid tuisbring. Wie se verstand gaan nou foto’s neem van ‘n alledaagse karsleutel. My onthou is uitgeblus.

Op en af, op en af loop ek terug op my voetspore na my eerste komma, kommapunt en punt. Die wind het reeds ‘n stuk dryfhout wat oop was half toegegooi onder die sand -- watter  kans staan my bos sleutels en my bestuurslisensie en die elektroniese hekoopmaker wat aan ‘n materiaalband vasgemaak is?

Ek weet dit is weg. Ek weet ook dat my Here alles ten goede laat meewerk. Die bestuurslisensie krap die meeste. Here, het U ‘n afspraak vir my by die lisensie-kantore?

Probeer  my man nou oortuig dat God ‘n plan het met alles as ons in Sy weg loop. My man sien klaar hoe skelms  die huise teiken en wag vir die donker om ons hekoopmaker, sleutels en ons ou kar-vol-sand-en-hond-hare te gebruik.  Ai.

So begin die legkaart in plek val op plekke waar ek nie sou gewees het as ek nie my bos sleutels verloor het nie. God verruil my sleutels vir sleutels wat die Koningkryk oopsluit. Die engele staan reg: “So, sê ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.” (Lukas 15:10) 

Ek sou nie hier gewees het nie.

By die slotmaker.

Pragtige kindjie met Jesus blink in haar ogies. Bid ek: Jesus, hier is ‘n kindjie. U was ‘n kindjie.  Wees Kersfees in haar hartjie. U geboorte binne haar en haar familie, tot eer van God.

Ek sou nie hier gewees het nie.

Op pad van die slotmaker. ‘n Werklose wat baie hard werk se werksprojek het omgetuimel in die middel van die pad en sy kartonne lê die wêreld vol. Ek trek van die pad af. Tussen die twee van ons kry ons die trollie weggetrek en die kartonne weer opgestapel. Ek gee vir hom R10,  ‘n klein Bybeltjie in Zulu, en Jesus. So seën ons mekaar voordat ek vertrek.
"Want God het Sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word." (Johannes 3:17)
Die motorlisensie afdeling.

So amper het ek hom gemis. Daar was net twee mense voor my,  dan sou dit my oë wees wat getoets word. 

Op bank 1 het drie van ons vriendelik gegroet en gesit. Die Moslem-kêrel aan my linkerkant en die jongman, omtrent 30,  aan my regterkant. Ek bid in my hart.

Op bank 2  het die jongman gepraat van die dae toe hy op die Bluff as tuinier gewerk het en hoe fiks hy was om van Umlazi af soontoe te loop. Hy vertel van  sy een oog wat swak is.

Ek het my Joy-tydskrif uitgehaal en gelees. Met die Moslem en die jongman weerskante aan my vasgestik soos twee moue was dit moeilik. Ek voel duidelik die  vier oë links en regs van my wat my Jesus leestof opslurp.

Die jongman sê vir my hy is ‘n Jehova getuie. Ons praat oor ons verskille. Hy belowe vir hierdie ou vrou dat hy vir God gaan vra om die waarheid aan hom bekend te maak. Amper ‘n soort berg Karmel ondervinding. Ek glo.

Voordat ek my goud, wierook en mirre kon oorhandig (die klein Bybeltjie, die boek van Markus en die vel papier wat vrae beantwoord en verduidelik hoe om weer gebore te word) moes ek opstaan om my oë te laat toets.

My toetsbeampte beanwoord ‘n oproep. Ek wag.

Teen die tyd dat ek my plek inneem om deur die volgende rye stoele te werk is my jongman al naby die betaalpunt. Die oomblik wat ek die ster sien stilstaan by die betaalpunt los ek my sak op my stoel en skuif-stamp deur die rye knieë om hom te bereik. Hy neem die geskenke van my met verwondering en dankbaarheid. My oë blink soos die liggies aan ‘n Kersboom.

Dankie Here.  Dankie vir verlore sleutels en gevonde siele.

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na Sy voorneme geroep is.” (Romeine 8:28) 

Ek buk by die hulpelose kindjie in die stal, ek aanskou die Koning op die wolke. “En Sy aangesig was soos die son wat skyn in al sy krag.” (Openbaring 1:16)

God het voorsien!  Jesus.

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun geggee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16)

Dit is kersfees.

Geseënde Kersfees.
********************************************************************************

English Summary.

This story is about the ecstasy of inhaling nature with my camera and self-provided hay; floating in God’s Christmas presence.

Then the sand storm that blows away everything from Hay to fishermen and leaves me face to face with my Lord. Clutching for dear life to the cross someone had left on the beach (for me!) which turns into an orchestral baton as I sing praises. Once the camera phone battery is no more I know it is time to go home.
My bubble almost burst when I find that in all this excitement I have lost my key. God reassures me that all things work together for good for those who love Him. There are lots of keys to have cut, a licence to have replaced and my automatic gate key. Places I would not have gone to if I had not lost my bunch of keys.

Every place brings forth human beings that God uses me to put them under His wing.  The angels of heaven rejoice.
All along the way I was aware of the Christmas reading I was slowly studying in my quiet time.

All the blessings brings much joy and a blessed Christmas wish to you all from me. 

xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx


No comments:

Post a Comment

Please leave a comment about this post, however please note, all posts are moderated and abusive posts will be removed.